Entry number 1!!!

Dinsdag, 30 Maart 2010

Ek het vandag my draadjies gekry! Vandag in die ortodontis se spreekkamer ingestap en 'n halfuur later uitgestap met 'n hakie aan elke botand en 'n metaal draadjie daar deur geryg. Die hakies, op die agterste tande, is glo keramiek - lyk vir my maar heel metalerig. Die hakies op die voorstes is glo porselein. Ek betaal 'n arm en 'n been ekstra vir hierdie "see-through" hakies. Dis egter die moeite werd!!

Ek sou nou verkies het om die hele konkoksie AGTER my tande te hĂȘ. Ag wel, dis net vir 10 maande!! Daarna - die pragtigste stel reguit tande!

Goed, daar was ek nou klaar MEJ. POSITIEF. Dit is seeeeer! Dit was onmiddelik seer. Ek het gedink die aansit sal seer wees, maar dit was nie. Glad nie 'n aangename ervaring nie, maar nie seer nie. Terwyl hy die tande gevyl het - om spasie te maak en die "dark tri-angles" weg te vat, was die koue water seer op die sensitiewe tande. Die oomblik wat daardie draadjie egter deurgewerk was, het die druk en trek proses begin. En dit is seeeeeer.

En toe onthou ek, elke maand wat ek teruggaan dat hy die storie stywer trek, gaan dit weer van voor af seer wees!

Terwyl hy ewe knaphandig hier in my mond werk soos 'n wafferse mechanic, het die ortodontis my mooi verduidelik: geen rooi wyn, geen kerrie, geen niks wat porselein mag vlek nie. Koop hierdie tandeborsels wat soos kersbome lyk en "superflos". Ewe plegtig oorhandig hy die was - party mense gebruik die hele pakkie en ander omtrent niks, dit hang net af hoe vinnig die mond aanpas by die draadjies. Nou dit kan ek onthou. As kind het die draadjies my mond flenters gesny. Hierop was ek voorbereid, maar ek het nie geweet van was nie...

Terug by die werk is ek verlig om te sien nie almal sien dadelik die draadjies nie. Die druk en trek aksie in my mond is egter baie seer en ek is naar. Kan nie wag vir etenstyd, sodat ek kan eet en pynpille kry nie!