Voor en tydens foto's


Dag 7: Mindful closing of the mouth

Ek is nou al goed moeg vir hierdie draadjies in my mond!

Die tande bly knaend seer. Dit is nou nie seer dat mens wil huil nie. Dit is ook nie seer genoeg vir pynpille nie, dit is net so knaend!

Die weirdste, is die gesukkel om jou mond toe te maak. Ek meen, doen dit: maak jou mond toe! Sien, jy dink nie eers twee keer daaroor nie. Met die draadjies is dit egter 'n heel ander storie: Mindful closing of the mouth. Eers voel ek waar is my lippe. Dan volg ek die pyn om te weet waar is my tande (hulle is besig om te skuif, onthou, hulle is nie waar hulle nou-nou was nie!) Wanneer ek weet waar alles is beweeg ek die lippe, ongesiens om en oor die tande en draadjies. Dit word gevolg deur die groot konsentrasie om die lippe te sluit (dis brommer tyd).

Eet is nog maklik en al minder pynlik, maar drink! Waar is die tande... volg die dowwe pyn, goed so die draadjie is daaaar... sit koppie versigtig teen lippe, maak lippe versigtig om en oor die tande en draadjie... stewig teen rand van koppie... kantel koppie versigig.... shit!!! dit loop teen my ken af... vee af! Versigtig, MINDFUL, konsentreer....

Dag 3: middagete

Ek is lus vir sjokolade!!

Ek eet elke dag 'n blokkie, of twee, of meer donker sjokolade. Dit is hard en my tande is te seer om dit te kou of ergste, af te byt!

Gelukkig is ek die trotse eienaar van 'n... mikrogolfoond! Blokkies word geduldig in die oond gedruk en gesmelt tot sag... salig....

Dag 3

Word wakker in groot pyn. My onderste en boonste kaak raak net-net aanmekaar, maar dit voel asof ek die heel nag op my tande gekners het.

Dag 2: middagete

Nou wat op die aarde is dit hierdie? Mindful eating? Eating like a bird?

Die binnekant van my mond is nie so seer as wat ek verwag het nie, maar my tande is seer. Hierdie bejaarde tande is nie lus om enigsins êrens heen te skuif nie. Ek kan nie byt nie, en ek kan nie kou nie. Middagete is net so lank, ek moet kou en sluk! Hierdie tande het egter 'n heel ander idee. Elke happie word piepklein gesny en saggies en stadig gekou en heel ingesluk.

Dit is nie net seer nie, dit voel ook baie snaaks. Elke kou is 'n versigtige, bewuste, onseker kou.

Gelukkig het ek Maandag, die idee in my kop gekry om boontjies en wortels saam met aartappels fyn te kook en te "mash". Dit eet heelwat makliker as wat 'n gewone middagete van geblansjeerde groente sou geëet het.

Dag 2

Woensdag, 31 Maart,

My mond is nie so stukkend en seer as wat ek gedink het nie. Die eelte van skooldae doen seker hul ding ;-). Ek het egter wel vanoggend 'n ewigheid spandeer om die was op al die harde, krapperige hakies en draadjies te sit.

Tandeborsel vat nou ekstra lank. Ek het sommer besluit om nou, terwyl my mond anders voel, die linkerhand te leer tandeborsel... Hierdie linkerhand is egter baie dom. Daarna, kom die gesukkel met die was. Kyk om 'n klein stukkie was om 'n skerp draadjie se punt, of 'n hakie te draai is glad nie maklik nie. Die klein stukkie word later 'n groot stuk. Die groot stuk land in die wasbak en dan is dit van vooraf sukkel. En ek is nie die knap ortodontis nie - my hande is te groot vir my mond.